Bartz, Harry

Herman Carl (Harry) Bartz is op 19 Junie 1916, in Woodstock, Kaapstad, gebore en was vir baie jare in diens van die poswese. Sy vader was 'n polisiebeampte te Woodstock en sy moeder 'n matrone by dieselfde polisiestasie. Hy speel konsertina en sy leermeester was die legendariese Boy Solomon en Harry het oom Boy Solomon van kleins af geken. Laasgenoemde was die bekendste konsertinaspeler van daardie jare en die leier van die Voortrekker Danskwartet.

Oom Boy het ongeveer in 1930 vir die klein Harry begin lesse gee. Oom Boy was 'n baie streng leermeester en Harry dat hy na 'n paar jaar se lesse eers vaardig genoeg met die instrument geag is vir Oom Boy om hom te vra om saam met hom by funksies op te tree. Hulle het met twee dubbel-aksie konsertinas gelyktydig gespeel. Harry is vol lof vir Oom Boy en beskou hom as een van die beste onsertinaspelers wat die land nog opgelewer het Hy is ook dankbaar dat hy by so iemand kon leer, en speel vandag nog van sy komposisies. Harry is 'n buitengewone goeie speler en kenners dink baie van sy musiek

Gerty Fourie vertel dat gedurende die oorlogsjare (1939-1945) het Harry en 'n vriend per motorfiets in die destydse sandstrate van Goodwood gery om op 'n dans te gaan speel. Die motorfiets het in die sand gegly en Harry, wat die passasier was, het hard met moederaarde kennis gemaak. Sy wit broek het 'n lelike skeur opgedoen en toe hulle by die dansplek opdaag het hy naarstigtelik na haakspelde gesoek om sy broek weer draaglik te maak.

Harry het saam met Japie Laubscher skoolgegaan in Balfourstraat, Woodstock. Hulle was ook jarelank groot vriende. Gedurende 1939 het Harry saam met Oom Boy en seuns in dieOns Landers Orkes gespeel. Hy het al die musikante van Kaapstad en omgewing ontmoet en vertel dat dit aangename jare was. Na skool het Oom Harry by die stadsraad van Kaapstad gaan werk, maar is later na die poskantoor waar hy tot sy aftrede in 1977 gewerk het. Oom Harry sê dat hy sy eerste dubbel-aksie Lachenalkonsertina in 1930 gekry het. Sy vader het dit vir hom by Oom Boy vir dertig ghienies gekoop. Dit was dieselfde konsertina waarop hy leer speel het. Oom Boy het toe vir homself 'n ander een by Morgan O'Kennedy gekoop. Nadat Harry die Ons Landers Orkes verlaat het, het hy by die Welkom Orkes aangesluit en saam met Mynie Reyes, Gene Prestwich en Joe en Louis Fourie gespeel. Hulle het baie op danse gespeel en het ook baie lewendige uitsendings oor die radio gehad. Daarna het Harry vir vyf en twintig jaar nie gespeel nie.

Gedurende 1978 het hy en Mynie weer begin saamspeel en het veral vir liefdadigheids-organisasies opgetree. In 1980 het hulle ingeskryf vir die boeremusiekkompetisie wat die SATV aangebied het. Hulle het nou wel nie die kompetisie gewen nie, maar het baie briewe van bewonderaars en ook van waardering vir hulle musiek, vanuit alle hoeke van die land ontvang. In 1981 het hy en Mynie 'n langspeelplaat gemaak.

Die bekendste musikante saam met wie Harry opgetree het, was: Frank Malan - viool, Mynie Reyes - viool, Christie Church - viool, Koos Viljoen - kitaar, Jackie Naude - kitaar, en vele ander. Hy het ook lewendige uitsendings saam met Nico Snyman, Imker Hoogenhout en André de Villiers gedoen. Oom Harry het gereeld in die radioprogram, "Konsertinaklub" opgetree en komposisies van Oom Boy, soos die Winter wals en Die Gesellige wals gespeel. Ons bring graag hulde aan een van ons beste maar ook van ons laaste groot dubbel-aksie konsertinaspelers van die Kaap.

Harry is in 1996 oorlede en het ons hierdie skakel tussen ons ryke verlede en die hede wat hierdie soort konsertinaspel betref verloor.

Full Name: 
Bartz, Herman Carl [Harry]
Birth Date: 
1916-06-19

Content type

Artists