Cissie en Willie Cooper

Mathildé Cornelia Maria Budke is op 27 Junie 1912, in Pretoria gebore. Cissie, soos sy algemeen bekend was, is later met William Schreiner (Willie) Cooper getroud. Willie se moeder was 'n niggie van die beroemde Olive Schreiner. Willie is op 28 Januarie 1897, in Pretoria gebore en het ons ongelukkig op 20 Oktober 1975, reeds ontval. Hierdie begaafde egpaar het vir ons 'n skatkis vol pragtige liedjies nagelaat. Langer as drie dekades het hulle liedjies en komposisies die Afrikaanse musiekwêreld totaal oorheers. Hulle het self ook plate gemaak onder die naam van die Soetspelers. Baie van hulle komposisies het immergroen gebly, soos die bekende Jy is my liefling, Die Donkie, In die Drakensberge en talle ander. Vir my persoonlik is Jy is my liefling hulle grootste treffer. Dawid de Lange, Jurie Ferreira en selfs Jim Reeves het dit baie gesing en dit op plaat laat opneem. Ek het aan Cissie gevra watter hulle gewildste liedjie was en haar antwoord was: "As Die Donkie en Jy is my liefling moes resies jaag, dan glo ek vas dat Die Donkie, so steeks as wat hy is, voor Jy is my liefling by die wenpaal sou aankom! Hy bly 'n wonderlike ding! ! ! " Sy vertel verder: "Willie het 'n mondfluitjie gespeel en baie van ons liedjies is daarop gebore!" Willie was hoofsaaklik die skrywer van die liedjies, in Afrikaans sowel as Engels. Cissie het die klavier bespeel en het jare lank sang studeer. Sy is weer aan die woord:  "Ons hele lewe (haar en Willie s'n) was een groot hoogtepunt. Ons was van die eerste Afrikaanse liedjieskrywers en sangers en ons het soveel lof en liefde van die hele Suid-Afrika ontvang dat dit ons hele lewe baie opwindend gemaak het! Ek onthou met trots 'n besondere aand toe ek voor 'n volgepakte gehoor in die stadsaal van Pretoria opgetree het. Daar was nie eens staanplek beskikbaar nie! Toe ek klaar gesing het, het die wonderlike gehoor my lank staande toegejuig. Daar was baie hoogtepunte in my lewe, maar ek sal daardie aand in Pretoria seker nooit vergeet nie!" Sy en Willie, die baie bekende Wolfswinkels van Pretoria, Joe Frates, Eben du Plessis en nog ander was lede van die Soetspelers. Hier volg 'n lys van hierdie gewilde egpaar se komposisies soos by SAMRO aangeteken: Aantjie, my liewe Aantjie  Die Apie sit en droom  Babetjie  Blouberge  Bobbejane  Boere Braaivleisaand  Boerefees  Boerewals  Bou van 'n nasie  Bruilof  By die Voortrekker Monument  Daar dans 'n meisie  Dag in die dorp  Danie Louw  Dans Kêrels, dans  Die Diereparty  Do You Know  Boemtick  Die Donkie  Drie uur draai  Drie vryers  Droomland  Ekskuus (ook genoem "Daar dans 'n meisie")  Hannetjie verjaar  Hou jou Meisie  Huistoe in die trein  In die Drakensberge (ook genoem "Blouberge")  Kersfees  lnami Gea Gei  Jonkmans Gebrek  Jy is my liefling  Kêrels Kêrels stadig draai  Keurspel  Koaliesie  Konsertina Bo  Krismis  Langs die strand  Leentjie  Lord Haw Haw  Los my Bokkie  Ma kom kyk vir Lena  Maanlig op die strand  Meisie van my drome  Moederhuisie  My Annatjie  My hartjie my liefie  My ou Perdewaentjie  My veldblom  Mynerslied  Namie ge a gei  Nat en Sap  Nuwejaar  Om die Braaivleisvure  Ons dans so lekker  Ons Land  Ons Springbokke  Oom Bart  Oom Boggem  Oom Bossie van die Bosveld  Oom Kool  Oorlogsdae  Op 'n Boerebruilof  Opsitaand  Pale toe  Petronella  Die Piekniekaand is hier  Rooi span osse  Sannie is nie daar  Sarie settees  Skeeloog Annie  So Wonderlik  Sononder op die plaas  Sy's 'n mooi nooi  Tant Koba se Bobbejaan  Trekkerslied  Trippel, trippel, perd  Troudag  Sonop  Springboklied  Die Suid-Afrikaanse Polisie  Die tweede hoenderkraai  Verjaarsdag wals  Verlore Liefling  Voortrekker Dans  Vryperd  Wapad  You are my love  Bruilof Hierdie beroemde Afrikaanse egpaar se bydrae tot ons boeremusiek was só groot dat 'n mens waarlik nie woorde het om hulle te bedank nie. Wat egter soos 'n paal bo water staan, is die feit dat ware Afrikaners hulle seker nie gou sal vergeet nie. Cissie is deur ons Klub vereer en het ook ere-lidmaatskap ontvang.

Content type

Group name