Cobus Jonker

Baskitaar speler van die Kaapland Boereorkes aan die woord:
 
My naam is Cobus Jonker en my ma het gesê ek is in Kimberley gebore, nie so lank gelede nie, 29 Januarie 1956.
 
My ouers het 'n plate winkel in Kimberley gehad, dus het ek maar met musiek groot geraak. Toe ek 8 jaar oud was het my pa eendag 'n 48-Bas Hohner trekklaviertjie by die huis aangebring. Van die ou trekklaviertjie se note was bietjie vals, maar nietemin het ek hom probeer speel. Ek kon nie regkom met die linkerhand nie en dit het maar geknor.
 
Lateraan het my pa ook met 'n voorloper van die hedendaagse klawerborde by die huis aangekom en dit was n nuwe uitdaging. Ek moet erken my pogings het die res van die gesin teen die mure uitgedryf.
 
Later het ek 'n mondfluitjie gekry, en die resultaat was maar dieselfde as die trekklavier en orrel.
 
In standerd ses wou ek baie graag in die skoolkoor sing, as gevolg van n sekere blonde meisietjie op wie ek van Sub B af tot die dood toe verlief was. So gaan ek vir 'n oudisie by die koor juffrou. Sy het my bitter vinnig gestop en gesê ek kan in enige land gaan sing, koringland, wortelland of aartappelland...net nie in haar koor nie. Maar ek het haar wel verkeerd bewys later en in twee kerkkore, 'n mannekoor en 'n kamerkoor gesing.
 
Op dertigjarige ouderdom verhuis ek na Alexanderbaai in Namakwaland, en een mooi dag op besoek aan die Kaap kry ek 'n beangste gevoel en koop vir my 'n klein Casio Klawerbordjie. Groot was my ontnugtering toe my gesin kapsie maak teen my musiek talent.
 
Gelukkig kon die Klawerbordjie met batterye werk, en het ek my toevlug tot die toilet geneem om daar te oefen. Glo het my uitvoerings geklink soos 'n droogteboklam wat keelaf gesny word. Ek was vasbeslote, en na vele pogings kry Maggie van Bles Bridges gedaante...net met die regterhand.
 
Later het ek geleer mens kan die linkerhand op outomaties stel om die linkerhand wat maar nog dom is te tol. Ek het gevorder tot waar ek een aand op 'n troue, toe die orkes na twee pogings nie meer vaardig was om te speel nie, met my repertoire van sewe liedjies die bruilof gaste tot middernag kon laat dans, al was daar was ook 'n Gospel nommer of twee by.
 
Die Vyf Namakwalanders was vir my 'n groot inspirasie, en ek koop toe vir my 'n kitaar. Ek het maar so met die oë gesteel waar die C, F en G drukke was, en daarvandaan myself geleer. Einde 1995 speel ek saam met oom Willie Nelson en die Vyf Namakwalanders as gaskunstenaar by 'n cd opname.
 
Nadat oorlede oom Tiekie Mostert afgetree het, het Willie Nelson my gevra om by die orkes aan te sluit, wat toe as Die Namakwalanders bekend gestaan het. Ek het ongeveer vier jaar lank vir Die Namakwalanders gespeel, waarna die orkes ontbind het.
 
Buks Mostert, wat ook vir Die Namakwalanders gespeel het, het toe Die Sandvelders orkes gestig, en ek en Christo (Plestiek) Wiese was van die stigterslede saam met Buks.
 
Ek het Kaap toe verhuis en latere jare 'n keer of wat 'n liedjie of twee saam met Daantjie Kotzé se Kaapland Boereorkes gespeel. Sedert Maart 2018 speel ek baskitaar vir Kaapland Boereorkes en hulle is my geliefde musiekfamilie.
 
Groete
Cobus Jonker
Full Name: 
Jonker, Cobus
Birth Date: 
1956-01-29

Content type

Artists