Daantjie Kotzé

Daantjie Kotzé, leier, konsertina en mondfluitjie speler van die Kaapland Boereorkes aan die woord:
 
Ek is op 19 Mei 1979 gebore en het op Jakhalsdraai, 'n plaas naby Nuwerus in die Namakwaland groot geword. 'n Groot deel van my kinderspore lê ook in die Boesmanland naby Pofadder, waar albei my ouers steeds boer.
 
Reeds as klein seuntjie het my pa my blootgestel aan die ou 78 grammefoon plate. Ons kon vir ure na die ou opnames van oom Dawid de Lange, oom Silver se Lange, oom Faan Harris, ens luister. Ek onthou nog hoe pa die ou brass naaldjies met 'n tang op die olieslypsteen geslyp het as hul stomp geword het. Die ou grammefoon met die ou plate is vandag steeds in my besit en is een van my kosbaarste besittings.
 
Pa het ons altyd vermaak met mondfluitjie en kitaarspel en ek het altyd sy mondfluitjie "geleen" om iewers skelm te gaan oefen. Reeds op 4-jarige ouderdom het ek mondfluitjie gespeel saam met pa se kitaar begeleiding. Op 6-jarige ouderdom het ek, van "met die oë steel", ook begin kitaar speel en het vir pa op die kitaar begelei.
 
Rondom 1992 het oom Langhannes Mostert, sy vrou tannie Martha en hul seun Kleinhannes die buurplaas, Eenzaamheid gekoop. 'n Wonderwêreld van oor en weer kuier en bykans elke naweek se musiek maak het begin. Kort voor lank het pa, oom Langhannes en Kleinhannes 'n orkes begin en gereeld op danse in die omgewing opgetree, terwyl ek groot drome gedroom het om eendag lid van die orkes te word. Dis dan juis op so 'n speel geleentheid wat ek my groot held, wyle oom Willie Nelson, ontmoet het. Groot was my verassing toe ek sien hoe nederig en plat op die aarde hy was!
 
Tussendeur het ek, Willem Pool en Koos Rossouw 'n koshuis orkes gehad en het sommer in die skoolkonsert ook opgetree.
 
In 1997, in my matriekjaar, het my groot droom waar geword en het ek saam met oom Langhannes en Kleinhannes op danse begin speel.
 
12 Januarie 1998 begin my beroepsloopbaan by die graniet myne naby Onseepkans, teen die Oranjerivier naby Pofadder. Kort voor lank het ek vir my 'n drie-en-driekwart Wheatstone konsertina aangeskaf. 'n Era, waarin ek my arme ma byna gek gehad het, het begin. Elke beskikbare tydjie het verander in konsertina oefen, want buig of bars, die ding in my hande MOES ek baasraak.
 
In 2007 het my paaie met die van oom Buks Mostert s'n gekruis. Hy is die oud lid van die destydse Vyf Namakwalanders en later Die Namakwalanders. So het my 5-jarige loopbaan as mede konsertinaspeler saam met Die Sandvelders begin.
 
In 2011 verhuis ek Kaap toe vanaf Springbok en hier het my paaie met die van Réjean Viljoen en Wynand Smit gekruis. Tydens 'n boekbekendstelling in Kaapstad tree ons drie op en daar en dan besluit ons dat ons 'n orkes moet begin. So het my paaie met die Heystek gesin gekruis en 'n wonderlike vriendskap het begin wat so sterk geword het dat ek Rolenda aangeneem het as my Ousus, en so het Kaapland Boereorkes ontstaan en ek is nederig dankbaar en tog ook baie trots op die wenspan wat ons is.
 
Vriendelike groete.
Daantjie Kotzé
Full Name: 
Kotzé, Daantjie
Birth Date: 
1979-05-19

Content type

Artists